5 Maniere om jou vryskutinkomste te vermeerder

11/10/2016

Hande op wie wil NIE sy of haar vryskutinkomste verhoog nie? Toe, moenie skaam wees nie … is jy tevrede met wat jy tans verdien? Hou jy daarvan om 14 ure per dag te werk net om aan die einde van die maand al jou swaarverdiende geld aan jou skuldeisers te oorhandig? En te weet die volgende maand gaan presies dieselfde verloop?

vryskut-op-potlood-jpgVryskutskrywers is wel baie erg oor hul beroep, maar ons het almal geld nodig om te kan oorleef. So … hoe gemaak om maandeliks iets te verdien wat as ‘n goeie, mededingende salaris beskou kan word? Nee, nie harder of langer ure werk nie, maar eerder jou werkswyse aanpas. Dís die geheim.

Kom ons kyk meer in diepte na wat jy kan doen om bokant die broodlyn uit te styg en daar te bly…

1. Vryskut beteken níé VRY nie

Jou werkstitel mag dalk VRYSKUTskrywer wees, maar dit beteken glad nie jy hoef ooit iets verniet te doen nie. Dis beslis nie waar die VRY in VRYskut vandaan kom nie! Jy moet jouself te alle tye as ‘n professionele kontrakteur beskou. Jy lewer ‘n professionele diens aan iemand wat dit nie self kan doen nie, derhalwe is jy geregtig om dienooreenkomstig daarvoor vergoed te word. Na alles het jy nie oornag besluit om ‘n vryskutskrywer of –redigeerder te word nie. Dit verg jare se ondervinding en opleiding om daardie soort diens te kan lewer. Jy moet dus jou waarde aan jou ondervinding en opleiding gelykstel en daarteen waak om gratis dienste te lewer.

2. Verhoog jou tariewe

Jy is ‘n onafhanklike kontrakteur wat ‘n spesifieke diens aan jou kliënte lewer. Wanneer hulle jovryskutinkomste1u vra om die diens te lewer weet hulle jy gaan dit nie gratis doen nie, maar hulle verwag darem ‘n mate van professionaliteit in jou fooie ook. Onthou jy daardie lawwe sêding van as jy grondboontjies betaal, moet jy verwag om ‘n aap te kry wat die werk doen (of so iets, want hierdie is sommer vrylik uit Engels vertaal)? Wel, as jy jou diens te goedkoop aanbied gaan jy (1) nooit die respek afdwing wat jou beroep verdien nie en (2) jou kollegas ‘n groot onguns aandoen deurdat jy die hele bedryf se waarde gaan verlaag. Vergewis jouself te alle tye van die spesifieke bedryf se vasgestelde tariewe en werk daarbinne. Natuurlik kan jy jou tariewe aanpas as jy weet ‘n sekere kliënt kan eerlikwaar nie bekostig om die heel meeste te betaal nie, maar moet nou ook nie so belaglik min vra dat jy jouself in die toekoms daarteen vasloop nie. Stel vas wat jou waarde is en prys jou diens daarvolgens.

3. Brei jou dienste uit

Het jy in die vryskutmark beland as ‘n joernalis? Of ‘n blogger? Begin om jou dienste uit te brei. Daar word nie verniet na vryskutskrywers verwys as mense wat verskillende hoede dra nie! Vandag het jy jou artikelskrywerhoed op, môre vervang jy dit met jou redigeerdershoed, oormôre ‘n bloggerhoed, ens. Maak seker jy bly altyd op hoogte van die bedryf en dat jy SAAM met die vryskutbedryf groei en in staat is om meer as een diens te kan aanbied. As jy nie iets anders as nuusberigte of bloginskrywings kan skryf nie, LEER om meer te doen. Die mark is, danksy die internet, oneindig groot, maar jy sal slegs daaruit munt kan slaan as jy ook saam met die beskikbare markte groei en in uitgewers/kliënte se diverse behoeftes kan voorsien.

4. Waag dit buite jou gemaksone

Ja, ja, ek weet die vryskutlewe is onvoorspelbaar en baie wispelturig. Min vryskutte ken nie daardie angstige gevoel wat gewoonlik teen die einde van die maand op jou dooierus kom neem nie wanneer jy besef jy’t dalk nie genoeg geld verdien om alles te kan betaal nie. Maar dit beteken nie jy moet vir ewig vasklou aan die paar dinge wat jy ken en goed kan doen nie. O nee! Dis juis hier waar jy dit moet waag om buite jou gemaksone te beweeg en iets nuuts aan te pak. Skryf jy altyd net vir dieselfde tydskrifte of koerante? Waarom nie ‘n paar nuwes teiken nie? Stel vir jouself uitdagings soos om elke maand ‘n nuwe publikasie of kliënt by jou bestaande versameling te voeg. Brei jou portefeulje van dienste uit sodat jy meer mense kan bereik en help. Doen iets daadwerkliks om jou besigheid (want onthou, jy IS ‘n besigheid op sigself) uit te brei. Dis die enigste manier om maandeliks meer geld te verdien.

5. Skop nes in die kuberruim

Baie mense reken dit help nie om ‘n webblad of aanlynteenwoordigheid te handhaaf nie want wie gaan kyk daarna? Jy sal jou verbvryskutgeld3aas! Eerstens ontgaan NIKS Google se alomteenwoordige oë nie en onthou en stoor die soekenjin álles. As jy dus ‘n aanlynteenwoordigheid het, sal Google dit binne twee weke – of selfs minder – raaksien. Wanneer iemand dan op die internet na ‘n spesifieke diensleweraar soek is die kans groot dat jóú naam ook saam met die groot kanonne uitgespoeg sal word. Maar jy kan slegs saamspeel indien die speelveld gelyk is – en geen vryskutspeelveld is gelyk as jy nie op die internet gevind kan word nie.

Bogenoemde vyf punte is taamlik eenvoudig om in werking te stel en die resultate kan jou dalk net verbaas. Begin sommer vandag nog om ten minste ‘n paar van die voorstelle in werking te stel en kyk hoe jou bankbalans oor ‘n rukkie lyk.


Moenie Romanzas op haar baadjie takseer nie – Mandie Human

05/10/2016

rebrand banner 3

Vinnig het ek besef dat my prentjie oor Romanza’s heeltemal verkeerd is. Die opinies van ander het my opinie gevorm nog voordat ek self enige ervaring daarvan gehad het. Hoeveel vrouens het al ʼn Romanza-boek saam hul rooi rose ontvang en die boek net iewers in ʼn kas gebêre sonder om eers die agterblad te lees. Die stereotipering oor hierdie genre strek wyd in Suid-Afrika, terwyl dit eintlik ʼn skat is wat nog verder ontdek moet word.

As kind en tienerleser was ek nie bekendgestel aan hierdie boeke nie. Boeke wat my ouma vanaf Leserskring bestel het, was oorgedra aan my en nie een Romanza was deel van daardie oorhandiging nie. My leeservaring het bestaan uit literêre werke van Daleen Matthee, Marlene van Niekerk, Ettienne Le Roux, Pieter Fourie en Jan van Tonder. Ek het digbundels en dramas gelees en ook nie-fiksie soos Dis ek, Anna en Thula-Thula.

Ek…

View original post 639 more words


%d bloggers like this: