Red ons tydskrifte!

Met die ekonomie wat wêreldwyd knyp is dit seker onvermydelik dat mediabase soms besluit om van publikasies wat verliese toon ontslae te raak, soos Media24 se aankondiging omtrent die sluiting van vyf van sy titels illustreer.

Die vyf publikasies wat einde vanjaar vir die laaste keer op die rakke sal verskyn is: TopCar, TopGear, Gracia, Idees/Ideas en Lééf.

sav-tydskrifteEersgenoemde drie is internasionale tydskrifte en hoewel die verlies ook tasbaar is, is dit veral oor die laaste twee – Idees/Ideas en Lééf – waaroor verbruikers ongelukkig  voel.

Dit lyk amper asof Afrikaans deesdae op alle vlakke onder beleg is – selfs wat leesstof betref. En ‘n mens kan nie verhelp om te wonder waarom dit is nie. Volgens die jongste syfers groei die Afrikaanse boekemark juis baie meer as in enige ander taal. Die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) se jongste syfers toon dat daar in 2014 2,000 Afrikaanse titels (drukvorm sowel as e-boeke) uitgegee is teenoor 1,327 in Engels en 546 in Afrikatale.

Die getal Afrikaanse boeke in druk het ook van 5,000 tot 8,500 gestyg met ‘n gepaardgaande vermeerdering in omset van R190 miljoen na R237 miljoen. Dit lyk dus nie asof Afrikaanse lesers suinig is wat hul koopkrag betref nie.

Maar, dis die stand van die boekemark. Wat tydskrifte en koerante betref lyk die prentjie volgens die jongste ABC sirkulasiesyfers wat begin November bekend gemaak is, nie naastenby so rooskleurig nie. Kyk ‘n bietjie na hierdie treurige staabcsirkulasiend van sake: Gedurende die tydperk Julie tot September vanjaar het tydskrifsirkulasie in die algemeen met meer as ‘n driekwartmiljoen afgeneem – van 5,239,127 in die vorige ooreenstemmende periode tot 4,488,653 – ‘n verlies dus van 750,474. Slegs ‘n handjievol tydskrifte het groei getoon of dieselfde gebly.

Die koerantmark skets net so ‘n droewige prentjie. Dagblaaie se sirkulasie het in die derde kwartaal van vanjaar algeheel met bykans 170,000 afgeneem, weekblaaie met meer as 54,000, naweekkoerante met amper 210,000 en selfs gratis koerante het met meer as 2 miljoen gekrimp.

Bogenoemde neerdrukkende statistiek is vanselfsprekend ‘n aanduiding van waarom die vyf tydskrifte gesluit word. Dit gaan na alles daaroor om aan die einde van die maand ‘n stewige bankbalans te kan toon.

Beteken dit egter nie dat die mediabase die leser, wat na alles hul inkomste voorsien, misken nie? Veral in die lig daarvan dat Media24 se uitvoerende hoofamptenaar, Esmaré Weideman, na aanleiding van die sluiting van die vyf publikasies half te kenne gegee het dat die maatskappy se strategie is om sy posisie as toonaangewende digitale uitgewer in Afrika te verstewig. Hieruit kan ‘n mens aflei dat sy reken Media24 se titels moet eerder digitaal wees, terwyl die drukbesigheid tweede moet kom.

Indien dit waar is, sal dit nie juis met vreugde deur die meerderheid lojale tydskriflesers begroet word nie. Soos een getroue Lééf-leser dit opgesom het: sy hou nie daarvan om tydskrifte en koerante aanlyn te lees nie want dit is irriterend op haar oë en sy verkies nog altyd die papier in haar hande. Dit is baie lesers se versugting.

Media24 behoort na hul Afrikaanse lesers se voorkeure te luister. Húlle is na alles die mense met die koopkrag. Volgens Media24 se eie advertensiemaatskappy, Ads24, is die Afrikaanse mark die tweede grootste in die land én dit blyk boonop asof dié mark daarvan hou om hul geld aan Afrikaanse produkte te bestee. Dit sluit tog seker Afrikaanse tydskrifte in?

Ons is blykbaar nie alleen in hierdie denkwyse nie, want dr Theuns Eloff, voorsitter van Die Dagbreek Trust het onlangs onder meer sê: “Dalk het die tyd aangebreek vir Afrikaanse mense om weer standpunt in te neem. Hul koopkrag is steeds sterk genoeg om aan te dring op Afrikaans.”

Lééf en Idees/Ideas se lot is dalk nog nie finaal beklink nie. In nuusberigte oor die sluiting van die vyf tydskrifte word genoem dat Media24 die sluiting van dié twee titels “oorweeg”. Dalk is daar ‘n sprankie hoop? Kyk wat het met Leserskring gebeur. In Maart vanjaar is die oudste aanlynboekwinkel summier gesluit omdat hy nie genoeg inkomste gegenereer het nie. ‘n Paar maande later is dieselfde aanlynboekwinkel weer heropen – groter en beter as voorheen.

Die rede vir die ommeswaai? Duisende boekliefhebbers en skrywers was erg omgekrap en nie skaam om hul misnoeë met die besluit uit te spreek nie.

Dalk is dit wat ons met Lééf en Idees/Ideas moet doen. Vertel die mense by Media24 hoeveel jy die tsav-tydskrif2ydskrifte gaan mis. Miskien help dit om nog ‘n tydskrif te red en daarmee saam die hardwerkende redaksie se brood en botter ook.

En terwyl ons op hierdie onderwerp is … koop meer plaaslike tydskrifte en koerante en voer ‘n joernalis. Hulle werk baie hard om die beste nuus en stories aan jou te bring!

Neem ook gerus deel aan ons meningspeiling hieronder en laat weet as jy dalk ‘n plan het om Afrikaanse tydskrifte en koerante te red. Ons hoor graag van jou.

Advertisements

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: