As jou kantoor by die huis is

Op enige gegewe tydstip bedryf een uit elke ses Suid-Afrikaners hulle eie besigheid en 73% van dié besighede se hoofkantoor is ‘n tuiskantoor in ‘n huis, woonstel of skakelhuis.

Met so baie mense wat reeds hulle daaglikse brood by die huis verdien, sou ‘n mens reken dat diegene wat elke dag hulle agt ure arbeid in die baas se kantoor verrig meer simpatie met tuiswerkers sal hê as om gereeld te vra wanneer hulle dan weer ‘n “regte werk” gaan kry.

Doen gerus hierdie toets as iemand jou volgende keer vra wat se werk jy doen: Vertel hulle dat jy vanuit ’n tuiskantoor by die huis werk en die reaksie is deur die bank dieselfde: ‘Jou gelukkige mens!’ Dit word dan gevolg deur: ‘Hoe heerlik om nie ’n baas te hê nie!’ en ‘Dink net aan die pendeltyd wat jy vryspring!’ of ‘Jou tyd is altyd jou eie.’

Hoewel daar waarheid in bogenoemde steek, is mense se idees oor tuiskantoorwerkers nie altyd in die kol nie en is daar steeds te veel wanopvattings.

tuiskantoorTuiskantoorwerkers kan dit gewoonlik nie bekostig om kantoorure te handhaaf nie. Die konsep van ‘agt uur per dag werk’ bestaan nie in ’n tuiskantoorwerker se woordeskat nie. Die werk moet klaarkom en dit beteken dat jy werk totdat alles klaar is – ongeag of dit 18 uur of meer duur. Gewoonlik word middagete en dikwels aandete sommer so in die hardloop genuttig, want die kantoor roep. Daar is dus geen sprake daarvan dat jy vyfuur smiddae jou kantoordeur toetrek en huis toe gaan nie.

Tuiswerkers word gewoonlik in twee kategorieë verdeel: diegene wat nie genoeg werk nie en diegene wat te veel werk.

Diegene wat nie genoeg werk nie, word vasgevang in die “huis”-aspek van die huiskantoor. Iets roep hulle altyd weg: ’n huilende baba, die wasgoed, ’n besoek aan die winkel, ’n pot op die stoof, TV-programme in die dag. Hulle gee toe aan die versoeking en doen nooit regtig ’n volle dag se werk nie.

En dan is daar die ander wat nooit van die “kantoor”-aspek kan ontsnap nie. Dit raak naderhand ‘n obsessie om soveel as moontlik te doen en sommer die hele 24 uur te werk as dit daarop neerkom.

Laasgenoemde is dié wat ysere selfdissipline het, wat besef dat daar niemand is wat oor hulle skouer loer om seker te maak die werk word gedoen nie. Hulle raak vasgevang in ‘n spiraal van presteer en kan nie verstaan waarom hulle gesinslede omgekrap raak omdat hulle selde uit die tuiskantoor kom nie.

Die oplossing vir beide tipes tuiskantoorwerkers is eenvoudig: stel doelwitte. As jy nie genoeg werk gedoen kry nie, stel ’n haalbare doelwit en hou daarby, ongeag hoeveel fyn beplanning nodig is om jou lewe daarby aan te pas. En as jy geneig is om te veel te werk, stel dieselfde doelwit entrek dan teen ‘n sekere tyd jou kantoordeur agter jou toe.

Dit verg ‘n baie toegewyde persoon om ‘n tuiskantoor suksesvol te kan bedryf. Daar is byvoorbeeld altyd afleidings om te oorkom.

Net so is dit belangrik om jou familie te laat verstaan dat, hoewel jy bedags tuis is, jy nie enige tyd beskikbaar is nie. Veral kinders kan nogal verward raak hieroor, en daarom is dit nodig om ‘n paar basiese reëls daar te stel waarby die hele huisgesin moet inval. Laat hulle verstaan dat jou werkure slegs vir werk is en dat jy verwag om nie deur enigiemand gesteur te word nie.

Een van die moeilikste aspekte van ‘n tuiskantoor is dat die skeidslyn tussen jou werk- en privaatlewe al hoe dunner raak – totdat dit naderhand onsigbaar word. Dit is dus noodsaaklik dat jy grense stel vir jouself én ander mense. Jou besigheid se sukses en oorlewing hang daarvan af.how-to-stop-yourself-from-tab-hopping-214x300

Dit is belangrik om ‘n werkskedule uit te werk en daarby te hou. Aanvanklik sal dit steeds ‘n uitdaging wees om nie persoonlike oproepe tydens jou werksure te maak of besigheid ná ure te wil doen nie. Dit sal die persepsie verstewig dat jy nie elke dag tuis bly net om gunsies of takies vir ander te doen nie. En selfs al kom familie altyd eerste, is dit nodig dat jy getrou bly aan jou werksure en die versoeking weerstaan om saam met vriende te gaan koffie drink of jou weeklikse inkopies tydens werksure te doen.

Onthou egter dat jy nie verplig is om dieselfde werkskedule as die res van die wêreld te handhaaf nie. Een van die belangrikste voordele van ‘n tuiskantoor en jou eie besigheid is juis dat jy jou ure só kan bepaal dat dit vir jóú voordelig is. Jy weet byvoorbeeld watter tyd van die dag jy op jou produktiefste is. Werk jou ure daarvolgens uit.

As dit enigsins moontlik is moet jy probeer om jou tuiskantoor van die res van julle huis te skei. Indien jy nie die luukse van ‘n aparte vertrek of studeerkamer het nie, kan jy ‘n afskorting gebruik om privaatheid te verleen. Die feit dat jou tuiskantoor apart van die res van die huis staan, sal ook ‘n visuele aanduiding vir jou gesin wees dat jy besig is met werk en dus nie gesteur moet word nie.

Advertisements

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: