Voltooi jou boek met ‘n skryfskedule

Om ‘n boek te skryf kan nogal ‘n reuse taak wees. Selfs ‘n taamlike kort boek kan maande lank sloer – veral as jy slegs in jou vrye tyd kan skryf. Onthou jy hoe jy aan die begin van jou boek gedink het jy sal oor vier maande op die meeste die voltooide manuskrip aan ‘n uitgewer kan stuur? Wel, moenie alleen voel as jy na ‘n jaar nog nie eens halfpad gevorder het nie.

Bron: quora.com

Een van die grootste redes hiervoor is gewoonlik omdat jy verskeie ander onbeduidende goedjies kry om te doen net om nie voor jou rekenaar te gaan sit en te skryf nie. Die beste manier om hierdie ongefokusheid te oorkom – of selfs voorkom – is om ‘n skryfskedule op te stel.  

‘n Skryfskedule is belangrik omdat dit realistiese doelwitte en mylpale stel. Dit sal jou help om ‘n gevoel van vordering te handhaaf en, nog belangriker, dien as ‘n vroeë waarskuwing dat jy agter raak.

Jy sal agterkom dat deur ‘n skedule op te stel en daarby te hou, jy ‘n gevoel van momentum sal behou. Jy sal voel hoe jy mylpale bereik, wat jou aan die beweeg en gemotiveerd sal hou. Dit sal jou ook ‘n gevoel van prestasie gee wat sal verhoed dat jy “uitbrand” en heeltemal opgee met die boek omdat jy voel jy vorder nie.

As jy mylpale en mini-sperdatums mis, óf jy werk nie konsekwent of hou by jou skedule nie, óf jou skedule is eenvoudig nie realisties nie, kan jy dit aanpas. Waak egter daarteen om dit as ‘n verskoning te gebruik om nie daagliks te skryf nie.

Wat is die doel van ‘n skryfskedule? ‘n Skedule is daar om jou te help om jou skryfdoelwitte te bereik, maar om dít te kan doen, moet jy weet wat jou skryfdoelwitte is. Voordat jy jou boek se beplanning skep, is dit ‘n goeie idee om eers te gaan sit en jou doelwitte neer te skryf. Wat is jou teikenwoordtelling (die lengte van jou boek)? Wanneer MOET die boek gedoen word, as dit moet? Wanneer kan jy dit realisties voltooi? Om dit betyds te voltooi: watter mylpale moet jy volg en hoeveel tyd is daar tussen hierdie mylpale?

Hoe beplan jy jou skedule?

Oorweeg heel eerste jou leefstyl en behoeftes. Wanneer is jy op jou mees produktiewe? Wanneer is jy die minste lus om te skryf? Is jy geneig om vir ‘n rukkie te skryf en dan eers weer iets anders te doen voordat jy teruggaan na jou skryfwerk?

Byvoorbeeld, as jy weet dat jy soggens meer produktief en energiek is om te skryf, skeduleer jou skryftyd vroeg in jou dag en doen net ‘n bietjie. As jy eerder daarvan hou om ononderbroke te skryf, moet jy dalk jou naweke skeduleer (of watter dae van die week jy ook al die vryste is om net te sit en skryf). Of dalk is jy ‘n naguil wat eerder snags wil skryf. Wat ook al jou behoefte is, is dit noodsaaklik dat jy jou eie behoeftes in ag neem en seker maak jou skryfskedule pas by jou.

Onthou, daar is nie ‘n duidelike riglyn wat ‘n skryfskedule betref nie. Alle mense is anders en derhalwe sal almal se skryfskedules verskil.

Dis egter noodsaaklik dat jy by jou skryfskedule hou nadat jy dit opgestel het. Gelukkig is daar ‘n paar maniere om te verseker dat jy by die skedule hou en nie daarvan afwyk nie:

  • Stel ‘n gereelde tyd in wanneer jy ononderbroke kan skryf. Selfs al is dit net ‘n halfuur of ‘n uur, solank dit gereeld geskeduleer is, hou by hierdie tyd.
  • Breek jou skryfdoelwitte en mylpale op in hanteerbare take. Niemand kan gaan sit en ‘n hele boek in een sitting skryf nie, maar jy kan vir jou ‘n doelwit stel om ‘n hoofstuk – of selfs ‘n halwe hoofstuk – in een sitting te skryf.
  • Vestig “aanspreeklikheidsmeganismes.” Dit kan so eenvoudig wees soos om daagliks jou sosiale media-kontakte in te lig oor jou vordering, verslag te doen oor jou skedule aan ‘n mentor of vennoot, of om seker te maak iemand anders weet wat jy doen en kan jou op koers hou.

Onthou selfs die beste skedules is onderhewig aan eksterne faktore wat jy nie kan verhelp nie. As jy ‘n noodgeval het, moet jy jou aandag eerste daaraan gee. As jy skrywersblokkasie ervaar, gaan dit niks help om jouself te bejammer en na die skerm te sit en staar nie. Maak seker dat jy by die skedule kan aanpas soos wat nodig is.

Hier is ‘n paar wenke om skeduleblokkasie te oorkom:

  • Neem ‘n blaaskans en kom oor ‘n rukkie terug. Probeer om te ontspan en gemaklik te raak met die skrywery.
  • Skryf neer wat ook al by jou opkom, al dink jy dit is nie goed genoeg nie. Jy sal dalk verbaas wees oor waarmee jy vorendag kan kom.
  • As jy twyfel, begin om ‘n storie te beskryf of te vertel. Kry daardie kreatiewe gedagtes aan die woeker.
  • Vind ‘n mentor. Soek iemand wat bereid is om jou ‘n bietjie rigting of raad te gee. Jy sal verbaas wees hoe waardevol ‘n mentor kan wees.

Wat jy ook al doen – as jy besluit om ‘n boek te skryf dóén dit. Moenie opgee net omdat dit moeilik is nie. Hou in gedagte dat niks wat die moeite werd is maklik is nie.

Is jy gereed om te probeer om ‘n boek te skryf? Klik hier om ons opsies te bekyk. Pak die bul by die horings en skryf sommer vandag in vir een van SA Vryskutskrywer se Skryf ‘n Boek-kursusse. Klik op die skakel onderaan vir meer inligting:

Kommentaar is gesluit.